Die Weg

 

Om alleen te wees

"Maar Jakob het alleen agtergebly, en 'n man het met hom geworstel tot dagbreek” Gen. 32 : 24 (OAV).

Om alleen agter te bly! Waaraan dink ons as ons hierdie woorde hoor? Vir sommige gee dit ‘n gevoel van eensaamheid en verlatenheid, vir andere rus en vrede. Om alleen sonder God gelaat te word, sou te aaklig vir woorde wees. Om alleen met Hom te wees, kan vir ons 'n voorsmaak van die hemel gee. As ons almal net meer tyd met Hom in stilte deurbring, sal daar weer geestelike reuse onder ons te voorskyn tree.

Die Here Jesus het ons 'n voorbeeld gegee. Hy het dikwels opsy gegaan om alleen met die Vader te wees. Daar is ook 'n magtige doel agter die bevel: “As julle bid, gaan in die binnekamer, en as julle die deur gesluit het, bid dan” (Mat 6:6).

Die grootse wonderwerke van Elia en Elisa is verrig terwyl hulle alleen met God was. Jakob is geseën terwyl hy alleen met God was. Op hulle beurt was ook Gideon en Jefta alleen toe God hulle geroep het om Israel te red (Rigters. 6 : 11; 11 : 29). Moses was alleen by die brandende doringbos (Eksodus 3 : 1-5). Cornelius was alleen en biddende toe die engel na hom gekom het (Hand. 10 : 2). Daar was niemand by Petrus op die dak van die huis toe hy die bevel ontvang het om na die heidene te gaan nie (Hand. 10 : 9). Johannes die Doper was die naaste aan God toe hy alleen in die woestyn was (Luk. 1 : 80), en die apostel Johannes was die naaste aan God toe hy alleen op Patmos was (Openb. 1 : 9).

Begeer om naby die Here te wees. As ons dit nalaat, beroof ons nie net onsself nie, maar ook andere, want die seëninge wat ons ontvang, kan ons weer aan andere oordra. Dit mag dalk minder sigbaar na buite wees, maar dit sal aan ons meer diepte en krag gee.

Jy kan ook die kragtige geestelike uitwerking ondervind wanneer jy alleen met die Here in die gebed verkeer.

Chas E Cowman
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css