Die Weg

 

En kyk!

..”en kyk, daar raak 'n engel hom aan". 1 Konings 19:5 (1953 vertaling)

En kyk!” Dit klink soos 'n jubelkreet, ‘n groot verrassing! Hierdie man is toegemessel in sy omstandighede. Menslik gesproke is daar vir hom geen uitkoms meer nie. Hy het die einde van sy pad bereik. Dit is klaar met hom. Maar dan: “en kyk !” Dit wil ons attent maak op hierdie groot gebeurtenis. Die man wat hier van gepraat word is Elia, aan die einde van sy fisiese en geestelike krag. Maar daar is uitredding en bevryding vir Elia, nieteenstaande sy eie berekenings en donker uitsig op die lewe. Daar is verwondering. Daar verskyn die HERE se reddende, helpende hand.

Ja, deur die engel raak die HERE hom aan. Die HERE steek sy hand uit na hierdie verslae mens in die draaikolk van moedeloosheid. Die engel is 'n openbaring van die HERE se hulp en bystand. So prakties en daadwerklik is die HERE se hand.

Dit is ook die boodskap vir alle mense wat hulself in hierdie lewe afgeskryf het. Vir alle lewensmoeë, eensame en wanhopige mense. Vir mense wat geen lig meer sien nie en miskien al met die gedagte aan selfmoord begin speel het. God se Woord verkondig aan jou dat die hand van die HERE uitgestrek word na die mens wat moed verloor het. Daar is baie mense wat al gesug het: “daar is nie eers iemand wat sy hand na my toe uitsteek nie.” Dit is die ervaring van mense wat hulleself in moeilike omstandighede bevind. En as daar mense is wat wil help, dan is hul arms te kort en hul hande te swak. Jy kan nie op mense vertrou nie. Maar . . . jy hoef dit ook nie van mense te ontvang nie.

Een of ander stadium beland jy in jou eie woestyn. Maar die HERE is ook daar, dáár waar jy alleen in jou eensaamheid met jou eie bekommernisse oor die toekoms verkeer. Die HERE steek sy hand na jóú uit. As alles hopeloos is, as ons van niemand meer iets kan verwag nie, dan . . . . “en kyk, daar raak 'n engel hom aan.” Daar is die HERE se hand.

Ds Gabe van Duinen

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css