Die Weg

 

Die pad na die beloofde land loop deur die woestyn

"... kyk die Israeliete na die woestyn se kant toe om, en toe word die magtige teenwoordigheid van die Here sigbaar in die wolk". Eksodus 16:10 (1983 vertaling)

Ons kan die tema van Eksodus 16 probeer omskryf en sê: Die pad na die Beloofde Land loop deur die woestyn. Menslik gesproke is ’n woestyn-omgewing presies die teenoorgestelde van wat ons almal wil hê. In Eksodus 16 begin die mense dink dat hulle redding uit Egipte ’n nagmerrie is. Hulle geloof en vertroue in Moses (en logies voortvloeiend daaruit ook in God) het begin wegwaai soos die sand op die duine om hulle.

Hoekom sal God sy mense red net om hulle na so ’n verskriklike plek toe te vat? Geen wonder dat die mense begin kla nie. Maar in hierdie geval verstaan God. Sy woorde aan Moses is nie kwaai nie en daar is geen teken van enige oordeel in hierdie hoofstuk nie. In plaas daarvan reageer God vinnig en liefdevol teenoor die mense se daadwerklike behoefte aan kos. Hy voorsien ryklik deur middel van manna en kwartels.

Maar voor dit‚ lees ons eers een van die mees wonderlike verse in die Bybel: Eksodus 16:10: “… die Israeliete [kyk] na die woestyn se kant toe om‚ en toe word die magtige teenwoordigheid van die Here sigbaar in die wolk.” Die mense is bang en honger en hulle wil terug “huis” toe gaan, Egipte toe. Maar God laat hulle kyk in ’n oostelike rigting‚ nie terug na Egipte nie. Hy draai hulle gesigte na die ooste‚ na die woestyn en dáár (in die woestyn) sien hulle die heerlikheid van God! Hulle kyk vorentoe na die moeilike tye en vind God daar. Hulle was nog nie in die Beloofde Land nie – dit was nog nie eers in sig nie. Die lewe nadat hulle gered is‚ gaan steeds sy kwota swaarkry en hartseer hê. Maar die verskil is dat hulle nie alleen sal wees nie. Die heerlikheid van God is daar en daarin het die mense troos gevind – nie ’n eenvoudige troos dat dit van nou af nét goed sal gaan nie; nie ’n oppervlakkige optimisme dat dit binnekort beter sal gaan nie; nie ’n gesondheid-en-rykdom-skema waarin geloof gelyk aan ’n suksesvolle lewe gestel word nie. Nee‚ die troos waarvan Eksodus 16:10 praat‚ is beide ’n realistiese en ’n diep troos: God sal altyd by en met hulle wees in die plekke van gevaar en dood – “selfs al gaan ek deur donker dieptes‚ sal ek nie bang wees nie‚ want U is by my. In U hande is ek veilig” (Ps. 23:4).

Die Christelike geloof sê jou lewens- en lydenspad lei na die kruis. Die kruis is daardie ligstraal wat skyn te midde van hierdie wêreld se verskeie woestyne van pyn en sonde en lyding. Die kruis is die fokuspunt van ons hoop. Die kruis is daardie heerlikheid in die woestyn wat gelowiges verhoed om op te hou glo as gevolg van lyding deur te sê‚ “wat help dit om te glo – as God bestaan het‚ sou Hy dit of dat nie laat gebeur het nie.”

Die woestyn is nie ’n lekker plek nie. Ons sal almal liewer ’n ompad wou vat. Maar vir nou is dit nie moontlik nie. Die uitdaging van geloof is om die versoeking om terug te gaan na die huis van slawerny en dood‚ te weerstaan en om voort te gaan‚ soekende na God se heerlikheid en miskien‚ deur genade alleen‚ om daardie heerlikheid reeds ook in die woestyn te vind en te ontdek. Hy kom spoedig op die wolke – verlustig jou nóú reeds in die feit dat jy nie alleen is nie‚ maar dat Hy so naby aan jou is‚ soos jou hemp of bloes. Deur Sy Gees woon Hy in jou!

Ds Hentie Krüger (Verkort)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css